Samuel Murray, Translator - English into Afrikaans | Article index

TIPS FOR AMATEUR TERMINOLOGISTS

This document wasn't meant as a set of tips for terminologists, but rather as a brief introduction into the various mistakes made by amateur terminologists. In particular the original article, which is still featured on the Termwerf (which is no longer updated), was aimed at budding computer terminology writers.


Wenke vir amateurtermskrywers

Een groot probleem onder vertalers is dat daar nie genoeg termlyste is nie. Dan moet vertalers maar self die term probeer vertaal. En dis nie altyd maklik nie. In hierdie artikel poog ons om riglyne te gee oor hoe terme geskep kan word, en hoe bestaande bronne geoes kan word om in die leemtes te vul.

Vertaalbeginsels

Nuwe terme moet aan 4 vereistes voldoen, en wel in hierdie volgorde:

  1. Tegniese korrektheid
  2. Konsepherkenbaarheid
  3. Terugvertaalbaarheid
  4. Terugherkenbaarheid

Dis 'n mondvol, maar kom ons kyk na elke onderafdeling individueel. Terloops, hierdie is nie die alfa en omega nie -- 'n vriend van ons wat al sagteware vertaal het, voel byvoorbeeld dat terugherkenbaarheid omtrent net so belangrik as konsepherkenbaarheid is.

Tegniese korrektheid

Selfs al is 'n mens besig met 'n informele teks, is dit steeds belangrik dat die woorde wat jy gebruik korrek gebruik word, die korrekte betekenis het, en as sulks deur die leser verstaan word. Tegniese taal bestaan nie uit vae begrippe met wye betekenisvelde nie. Dis waar, met ontwikkelende bedrywe, soos die rekenaarveld, is daar dikwels woorde wat vir verskillende mense verskillende dinge beteken, en daar is woorde wat meer as een ding kan beteken. Maar 'n mens moet nie hierop rus nie -- gebruik eerder 'n sekere woord spesifiek en konsekwent regdeur jou teks.

Die vyande van tegniese korrektheid is (a) kategoriefoute, (b) genus-spesie foute, (c) nuansfoute, (d) generalisasie, (e) oorspesifiasie, (f) faux amis, (g) komponent-oorbeklemtoning, (h) termverwarring, en (i) taalkundige en spelkundige onnoukeurigheid, ens.

A: Kategoriefoute

'n Kategoriefout ontstaan wanneer twee dinge wat absoluut geen verband het nie, met mekaar in verband gebring word vanwee o.a. oppervlakkige of toevallige ooreenkomste, en daardie veronderstelde verband dan gebruik word d.m.v. o.a. analogie om nuwe terme te skep.

Byvoorbeeld: Net omdat 'n kat en 'n klavier albei vier pote het, beteken nie dat 'n mens terme soos "vleuelkat" kan skep nie. Jy kan nie van die geluide van 'n klavier praat as "gemiaau" of "gekrys" nie, en om na die klavier se musiekstaander te verwys as sy "snorbaard" gaan meer as een klavierspeler laat skeef opkyk.

B: Genus-spesiefoute

'n Genus-spesiefout ontstaan wanneer twee dinge wat in 'n algemeen-spesifiekverhouding teenoor mekaar staan aan mekaar gelyk of soorgelykwaardig gestel word, en as eweknieë hanteer word i.p.v. as genusse en spesies van mekaar. 'n Algemene vorm van genus-spesiefout ontstaan ook wanneer 'n enkele term gebruik word vir beide die genuskonsep en die spesiekonsep.

Byvoorbeeld: Net omdat die ding wat 'n voertuig aandryf en die voertuig self ook 'n "motor" genoem word, beteken nie dat alle sinonieme van die woord "motor" vir albei konsepte sal geld nie. Ons kan wel sê dat 'n "motor" (genus) 'n "motor" (spesie) het as onderdeel. Maar hoewel "kar" sinoniem met "motor" is vir die genus kan ons nie sê dat 'n "kar" 'n onderdeel van 'n enjin is nie.

C: Nuansfoute

'n Nuansfout ontstaan wanneer term wat 'n konsep beskryf, addisionele betekenisse of self het of oproep in die leser se gedagtes.

Byvoorbeeld: 'n tyd gelede moes 'n bekende Suid-Afrikaanse maatskappy haas hul hele bemarkingsveldtog skrap omdat die kinderspeelgoed wat "fiendishly friendly" was, as "demonies vriendelik" wanvertaal is. 'n "Fiend" is weliswaar 'n "demoon", maar die Afrikaanse nuans van daardie woord maak dit ongeskik. "Kleine rakkers" sou 'n baie beter vertaling gewees het.

D: Generalisasie

'n Generalisasie ontstaan wanneer daar na 'n spesifieke konsep met 'n algemene woord verwys word. Generalisasies kom o.a. voor wanneer die vertaler nie bewus is van die spesifieker betekenis nie, of wanneer die vertaler 'n nuans probeer vermy en onwetend te algemeen raak, of as die vertaler probeer fênsie klink.

Byvoorbeeld: Net omdat die woordjie "dobbel" 'n effens riskante nuans het, beteken nie dat 'n mens na "dobbelsteentjies" as net "steentjies" kan verwys nie. Die woord raak dan te vaag en is dan nutteloos. Soortgelyk, om na 'n horlosie te verwys as 'n "chronometer" klink dalk baie grênd, maar dis te vaag vir byvoorbeeld 'n kettingwinkeladvertensieblad.

E: Oorspesifiasie

Oorspesifiasie kom voor wanneer 'n term so presies gedefinieer of beskryf word dat dit konsepte wat dit gerus maar kan insluit, onnodig uitsluit. Dit kom ook voor wanneer 'n te spesifieke term gebruik word om na 'n algemener ding te verwys.

Byvoorbeeld: Om na 'n soort radio wat sy toevoer van 'n kabel af verkry, te verwys as 'n "kabelradio" sal strakkies beter wees as om van 'n "kabeldraadloos" te praat. Die woord "draadloos" is te spesifiek en sluit kabelradio onnodig uit.

F: Faux amis

Faux amis beteken "valse vriende", en verwys na die fenomeen dat sekere woorde in een taal wat amper lyk soos woorde in 'n ander taal, eintlik totaal verskillende (en soms teenoorgestelde) betekenisse in die twee tale het.

Byvoorbeeld: In bogenoemde sin gebruik ons "amper", wat in Afrikaans beteken "net-net nie", maar in Nederlands beteken "amper" juis "net-net". Vir 'n Nederlander sou 'n "amperbroekie" iets soos 'n sjoebroek wees, terwyl die Afrikaanssprekende dalk 'n g-stringetjie in gedagte sou hê. Dieselfde geld vir die Engelse term "eventual" (d.i. "uiteindelik", "na 'n hele ruk") wat in betekenis grondig verskil van die Afrikaanse (en Franse) evenueel (d.i. "beslis", "heel gou").

G: Komponentoorbeklemtoning

Komponentoorbeklemtoning kom voor wanneer 'n enkele komponent van die konsep oorbeklemtoon word wanneer 'n term daarvoor geskep word, sodat die term later te spesifiek of selfs heeltemaal onakkuraat is.

Byvoorbeeld: Die Nederlanders verwys na 'n mikrogolfoond as 'n "magnetron", hoewel die magnetron maar een onderdeel van die mikrogolfoond is. Die woord "seilskoen" word gebruik om na tekkies of sportskoene te verwys, al word sulke skoene lank nie meer van seil of seilagtige materiaal vervaardig nie.

H: Termverwarring

Termverwarring vind plaas wanneer twee woorde wat soortgelyk klink met mekaar verwar word. Dit gebeur veral wanneer terme uit meer as een stam bestaan.

Byvoorbeeld: Die woorde "yskas" en "vrieskas" klink verskillend genoeg, maar "fridge" en "freezer" klink soortgelyk. Sommige mense verwar oor "Tuesday" en "Thursday".

I: Taalkundige en spelkundige onnoukeurigheid

Sulke foute is legio en sluit enige soort onnoukeurigheid in, insluitend onnadenkende koppeltekengebruik, foutiewe afkaptekengebruik, die gebruik van 'n verbindings-"s" selfs al word woorde apart geskryf, verkeerdelike hooflettergebruik, gewone spelfoute, toutologieë en diverse grammatikale sake, ens.

Konsepherkenbaarheid

Die rekenaarbedryf word betree deur gewone mense -- mense met geen tegniese agtergrond nie en wat kom van verskillende agtergrond. Nietemin het die Amerikaanse tegniese terme heelwat veld gewen ten spyte van die feit dat baie van die woorde vreemd was of vreemd geklink het. Tien jaar gelede sou "default", "CPU", "protocol" en sulke terme vreemd by gewone mense geklink het.

Die vraag is dus nou: moet ek gaan vir iets wat tegniesklinkend is of moet ek gaan vir iets wat selfverduidelikend is. Die antwoord is dit: Gaan eerstens vir iets wat tegnies korrek is en daarna vir iets wat selfverduidelikend is. Die ideaal is om hierdie twee te kombineer.

Een probleempie in Afrikaans is dat tegniese woorde dikwels romaans is en herkenbare woorde dikwels germaans. Moenie daardeur afgeskrik word nie. Gebruik 'n woord wat herken sal word en wat verstaan sal word. Onthou egter ook dat woorde wat eers vreemd klink, later erkende, geliefde woorde word.

Afrikaans is ook 'n beskrywende taal. Net omdat die Engels praat van "hoover" (wat terloops nie van die handelsnaam afgelei is nie) beteken nie dat "stofsuier" 'n minderwaardige woord is nie.

Terugvertaalbaarheid

Dis moeilik om terugvertaalbaarheid te verduidelik in terme van bloot woordeskat, maar wat dit op neer kom is dat die term wat geskep word nie so radikaal van die Engelse woord afwyk dat 'n vertaler wat van die ander kant af vertaal, gaan wonder "wat de hel..." nie.

Wat sou u dink is die Afrikaans vir die Engelse woord "enable"? Die amptelike vertaling is 'n baie onterugvertaalbare "ontsper". Dit beteken dat die positiewe woord in Engels vertaal word met 'n negatiewe woord in Afrikaans, en noodwendig andersom.

Een begrip wat belangrik is by terugvertaalbaarheid is die konsep van tweelingterme, d.i. terme wat twee-twee bymekaar hoort. "Enable" en "disable" is so'n tweelingterm. "Log in" en "log out" is nog 'n tweelingterm. Dis sou 'n fout wees om "log in" en "log out" met twee totaal onverwante woorde te vertaal. Selfs al moet 'n mens nou 'n vreemdklinkende woord skep.

Moet ook nie te slim probeer wees nie. Hoewel ons gewoonlik "konsepte" vertaal, gebeur dit in tegniese tekste dikwels dat 'n mens "woorde" moet vertaal. As die Engelse woord foutief is of onakkuraat, moet 'n mens steeds versigtig wees om die vertaling "meer akkuraat" te probeer maak. Daar is egter gevalle waar die Afrikaans briljante "korrekter" woorde geskep het wat steeds populêr is.

Terugherkenbaarheid

Daar is mense wat sou sê "My taal is nie bloot 'n vertaling van 'n ander taal nie." en hulle is reg: Afrikaans is 'n taal op sy eie, en 'n mens moet woorde vertaal sodat hulle Afrikaanse woord is -- nie Verafrikaansde Engelse woorde nie. Ons praat immers van 'n strykyster, nie van 'n "iroon" nie, en van 'n vreemdeling, nie van 'n "foreiner" nie.

Daar is egter iets te sê vir woorde wat terugherkenbaar is. Ons praat van "bottelstoor" (hoewel dit nie 'n stoor is nie, maar 'n winkel). Ons verwys ook na 'n elektroniese vertoonskerm as 'n "monitor" (afgelei van die Engelse woord), hoewel die ware monitor eintlik die persoon is wat na die vertoonskerm kyk.

Ons raad is: moenie wegskram van 'n woord wat lyk of hy te erg terugherkenbaar is nie -- terugherkenbaarheid maak dat 'n woord vinniger aanvaar sal word by mense wat die Engelse woord ken. Dit sal egter geen veld wen by mense wat nuut is met rekenaars en dus selfs die Engelse terme nie ken nie.